Onse Hymie is die verhaal van 'n Joodse smous se omswerminge en dood in die Karoo. J. C. Kannemeyer (in Die Afrikaanse Literatuur 1652-1987) skryf dat dit die figuur van die Wandelende Jood in die herinnering roep en dat Leroux 'n besondere geestigheid met die jukstaponering van uiteenlopende groepe en uitgediende apartheidswetgewing bereik.
In Magersfontein, o Magersfontein! steun Leroux op die vloedramp van 1974 toe die Riet- en Modderrivier naby Magersfontein hulle walle oorstroom het, maar in die besonder op die historiese gegewens oor die Slag van Magersfontein waartydens generaal-majoor Wauchope met die nagtelike opmars van 11 Desember 1899 verslaan is deur die boere. J. C. Kannemeyer (in Die Afrikaanse Literatuur 1652-1987) skryf dat Leroux se roma oor 'n buitelandse film- en T.V.-geselskap handel wat die historiese veldslag deur middel van akteurs en aktrises wil rekonstrueer, maar tydens die enscenering deur die onverwagte vloedramp oorval word. Alhoewe daar sekere raakpunte met sy vorige romans is, verskil Magersfontein, o Magersfontein! in baie opsigte van Leroux se voorafgaande drie trilogieë, onder meer deurdat die mitologiese verwysings veel geringer is en die historiese gegewe self as Suid-Afrikaanse "mite" dien.
Volgens J. C. Kannemeyer (in Die Afrikaanse Literatuur 1652-1987) handel Na'va heel bewustelik oor die poging van die knolskrywer om deur middel van sy kunstenaarskap 'n "onverganklike vorm" op die "spierwit papier" te bereik. Telkens word besondere bisarre en groteske effekte bereik deur die jukstaponering van handeling en mitologiese uiteensetting of die beskrywing van twee gebeurtenisse wat gelyktydig afspeel. Die roman werk basies met 'n hele kompleks verwysings wat gesamentlik die siklus van skepping, vernietiging en herlewing aan die gang van die roman moet gee.
Die soektog van die Egiptiese Isis na die lyk van Osiris vorm die mitiese stramien vir Isis Isis Isis, die vervolg op 18-44. J. C. Kannemeyer (in Die Afrikaanse Literatuur 1652-1987) skryf dat die roman oor die knolskrywer se poging om deur middel van 'n Europese besoek en kennismaking met 'n aantal vrouens die veertien stukke van die verminkte Osiris tot 'n nuwe geheel gevoeg te kry, handel. Soos telkens in Leroux se romans is die doel van die peregrinasie 'n indiwiduasieproses, 'n poging van die knolskrywer om sy verminkte self te herstel.
18-44 is die begin van 'n nuwe trilogie waarin die vroeëre meturgeman vervang word deur die knolskrywer wat as ek-verteller direk as eksegeet optree en probeer om homself al skrywende met "die wonderlikheid van die lewe" te versoen, tot 'n geheel te herskep of 'n sekere harmoniese betekenis in lewe en dood te vind. So beskryf J. C. Kannemeyer (in Die Afrikaanse Literatuur 1652-1987) die roman oor die jaarlange korrespondensie tussen mnr. Y, die vier en veertigjarige knolskrywer, en die agttienjarige mej. X, vir wie hy nie persoonlik ken of ooit ontmoet nie. Die lewensloop van mnr. Y word gaandeweg opgeroep en beweeg tussen twee markerende punte: die jaar 1844, waarin niks van belang gebeur nie maar die briefwisseling tussen Y en X begin, en 1945 met sy katastrofes en "geboorte van 'n nuwe tragiek".
Die derde oog is die derde deel van die Silberstein-trilogie. J. C. Kannemeyer (in Die Afrikaanse Literatuur 1652-1987) skryf dat Lerous in hierdie verhaal twee aspekte van die Herakles-mite teleskopeer sodat Die derde oog twee literêre "interpretasies" van die mite as stramien het. Leroux betrek ook 'n derde verwysingsveld in, naamlik Dante se Divina commedia, iets waardeur die skrywer te kenne wil gee dat De Goede se afdaal in die stad 'n hellevaart is. Die sentrum wat hy besoek is met verheerliking van tydelike waardes, eendsterte, seksgodinne, en dies meer, 'n beeld van die hedendaagste lewe in al sy perversiteit.
Volgens J. C. Kannemeyer (in Die Afrikaanse Literatuur 1652-1987) is die aansluiting by die speurverhaal en die tragedie die dubbelduidigheid van mens en dinge, die polariteit en die sirkelgang een van die basiese struktuurpatrone van Een vir Azazel. Naas die jukstaponering van gegewens bereik Leroux iets besonders deurdat hy met die verbinding van 'n boks-, stoei- en bulgeveg 'n travestie van die oeroue stenigings- en sondebokritueel gee, terwyl die mite van Herakles se stryd teen die reuse in die beskrywing meespeel en die teleskopering van klassieke oudheid en hedendaagse banaliteit iets skrynends en grotesks aan die gegewe toevoeg. Leroux verbind ie lagwekkende en geestige voortreflik met die grusame, bisarre en absurde.
Sewe dae by die Silbersteins werk met die problematiek van die goeie en bose of orde en chaos, die passiewe "outsider", 'n konkrete uitgangspunt (die soeke na 'n onsigbare geliefde) en sluit aan by die tradisie van die pergrinale literatuur. So beskryf J. C. Kannemeyer (in Die Afrikaanse Literatuur 1652-1987) die roman. Hy stel dat Sewe dae by die Silbersteins struktureel 'n kragtoer is en dat dit as geheel 'n siening van die moderne mensheid bied wat in baie opsigte aangrypend en onthutsend is.
Met Die Mugu sluit Leroux by 'n roman soos Ulysses aan. J. C. Kannemeyer (in Die Afrikaanse Literatuur 1652-1987) beskryf die roman as 'n tweedaagse dooltog van Gysbrecht Edelhart deur die strate van Kaapstad.Gysbrecht, 'n vyftigjarige winkelklerk wat in 'n daaglikse roetine-lewe vasgevang is, verneem dat hy 'n lotery gewen het en dus uit sy klein wêreldjie weg kan breek. In sy reis na die middestad om sy loterykaartjie te gaan haal, ontmoet hy 'n aantal uiteenlopende karakters, onder meer die anargistiese Juliana Doepels. Met hierdie figuur van die "outsider", Doepels as eksegetiese karakter, die problematiek van orde en chaos, die peregrinasie en die verbinding van objektiewe en subjektiewe werklikheid in Die mugu het Leroux "sy eintlike métier gevind".
J. C. Kannemeyer (in Die Afrikaanse Literatuur 1652-1987) beskryf die roman, die vervolg op Die eerste lewe van Colet, as belangrik in Leroux se hele ontwikkeling as 'n skrywer. Die verhaal handel oor Colet ná sy terugkeer van die oorlog en in diens van die fabrikant Julius Johnson waar hy help om 'n weeklange advertensieveldtog vir plastiekblindings te organiseer. 'n Mitiese parallel (Cybele en Attis se herlewing en die Eleusiniese misteries) lê ten grondslag van die gebeure, terwyl die banale gegewe van 'n advertensieveldtog teen die agtergrond van 'n antieke religieuse ritueel vir 'n volgehoue ironiese spel in die roman sorg.
Etienne Leroux se debuut-roman, Die eerste lewe van Colet (1955), is 'n ontwikkelingsroman van 'n seun se kinderjare tot vroeë volwassenheid. J. C. Kannemeyer (in Die Afrikaanse Literatuur 1652-1987) beskryf die roman as 'n voorganger in seksuele openheid in Afrikaanse literatuur. Die seun, Colet, is van sy vroegste jare bewus van die goeie en bose wat sy lewe oorheers, terwyl die omringende karakters in 'n sekere sin as gidse vir die sentrale ervarende figuur optree. Teen die einde van die roman gee die hoofkarakter Colet hom aan die bevrydende chaos oor en ervaar die verlede en hede in volkome verstrengeling met mekaar. Dit word verder versterk deur die nieu-saaklike styl, enumerasies en die oorgang van die derde na die eerste persoon.