Magersfontein, o Magersfontein! As 'n wending tot die realisme in die werk van Etienne Leroux
- Title
- Magersfontein, o Magersfontein! As 'n wending tot die realisme in die werk van Etienne Leroux
- author
- Korb, Johanna Adeline
- datePublished
- 1983
- degree
- Magister Artium
- publisher
- Universiteit van Pretoria
- department
- Afrikaanse Letterkunde
- contributor
- Roodt, P. H.
- Botha, Elize
- description
- Magersfontein, o Magersfontein! vertoon veral twee fasette van die realisme, naamlik kritiese realisme en sosiale realisme, met satire as die medium en ironie as die "point of view". Die roman teken nie alleen sekere lyne van die sosiale ontwikkelingspatroon oor geslagte heen nie, maar is ook en veral 'n aanval op bourgeois-eienskappe wat in dié ontwikkelingsgang as verwerende en selfs vernietigende elemente voorkom. Sodanige eienskappe is die skyf van die satire. Die toman is gebaseer op die Slag van Magersfontein 1899, en die besoek van 'n TV-span en filmspan wat die beroemde Slag wil laat herbelewe. in gekonstrueerde ironie word die Slag, as die bovlak, teen die projekgangers as prototipes van die nageslagte van die helde van weleer, as die ondervlak gestel. As agtergrond dien die dorre vlaktes van Magersfontein, simbolies van die geestelike dood, dus die malaise van ons tyd. Die steriele karakters wat daarteen beweeg, word nie op tradisionele romanmatige wyse uitgebeeld nie, maar stel as meerkantige figure, 'n tema, 'n denkrigting, 'n groep of 'n instelling voor, waarin bepaalde bourgeois-eienskappe voorkom wat onder die soeklig van die satire kom. Sodoende belig Leroux die oorsake van die malaise as synde kleinlikheid, selfbedrog, eiewaan, wensdenkery, snobisme, huigelary en hebsug. Die verkrummeling van die aristokrasie, een van die belangrikste oorsake van die toename in bourgeois-elemente, word in lords Sudden en Seldom uitgebeeld. Le Grange verteenwoordig die Staat as skepping van 'n vlytige bourgeoisie wat 'n liggaam in die lewe wou roep wat met die organisasie verbonde aan ekonomiese en tegniese vooruitgang, vir hulle tot hulp kon wees. Mr. Shipmaster, wat onder andere die organisasiemens verteenwoordig, kan ironies nie organiseer nie en leun almeer op die "Staat" dat dié vir hom sy lewe gemakliker kan maak. Die satiriese spot lê in die ontaarding van die staat van 'n geordende instelling tot 'n burokrasie en uiteindelik tot 'n militêre Staat. In Mr. Shipmaster word onder andere getoon heo by gebrek aan inspanning, die leiersfiguur onder die invloed van 'n massakultuur wat uit die bourgeoisie se massaproduksie ontstaan het, tot 'n massamens kan degenereer. Op soortgelyke wyse word die ander karakters in die roman gebruik om op die verwerende elemente te wys. 'n Storm dreig, wat van 'n komende oordeel getuig en die verskillende karakters se reaksie daarop is ook verskillend, net soos by die latere oorstromings. Die beeld word een van 'n toenemende geestelike nood en die wetenskap in die persoon van die Man van Waterwese kom met sy helikopter (Tegniek) om die noodgeteisterdes te red. Die gebrek aan kommunikasie word toonbeeld van verskille in waardes; sy poging is 'n mislukking - hoe kan die wetenskap die taal van die siel in nood ken en verstaan? Intussen vorm 'n meer tussen die koppies waarop die noodgeteisterdes saamdrom. Die meer kan verstaan word as simbool van die psigies-herstelde mens. In dié stadium tree Aristophanes Pompidous, wat as skrywr in die roman geskontitueer is, vrywillig na vore om 'n simboliese sterwe-tot-die-lewe te volvoer, ooreenkomstig die Griekse mite van Dionusos. Die waterbeeld is in die Christelike godsdiens ook ten nouste verbonde aan die aflegging van sonde in die Doop as verbond, wat wedergeboorte impliseer. Die boek eindig met die positiewe gedagte dat volkome herstel, dus hergeboorte wat herlewing inhou, moontlik is uit die beeld van 'n herstelde wêreld waarvan lord Sudden 'n visioen het vanuit die ballon. Die eens barre vlaktes van Magersfontein vertoon ten slotte aan hom (en die leser) die beeld van 'n vrugbare, waterryke vallei.
- keywords
- Leroux, Etienne
- Magersfontein, o Magersfontein! 1976
- inLanguage
- Afrikaans
- identifier
- http://hdl.handle.net/2263/29987
- numberOfPages
- 140
- fileFormat
Part of Magersfontein, o Magersfontein! As 'n wending tot die realisme in die werk van Etienne Leroux
Not viewed
