'n Edisietegniese voorstel vir die samestelling van 'n histories-kritiese uitgawe van Die eerste lewe van Colet (Etienne Leroux)
- Title
- 'n Edisietegniese voorstel vir die samestelling van 'n histories-kritiese uitgawe van Die eerste lewe van Colet (Etienne Leroux)
- author
- Teise, Victor Nico
- datePublished
- 2002
- degree
- Philosophiae Doctor
- publisher
- Universiteit van die Vrystaat
- department
- Departement Afrikaans en Nederlands en Moderne Europese Tale
- contributor
- Van Coller, H. P.
- description
- Die primêre doelwit van hierdie studie was om binne die paradigma van die edisietegniek 'n voorstel aan die hand te doen vir die samestelling van 'n histories-kritiese uitgawe van Die eerste lewe van Colet van Etienne Leroux. In navolging van 'n edisiewetenskaptradisie wat reeds vele dekades in die Europese vasteland aan die orde is, was die oogmerk om enkele riglyne te verskaf oor hoe sodanige uitgawe binne die Suid-Afrikaanse en meer bepaald die Afrikaanse kontaks aangepak behoort te word. In hierdie verband is die oorsprong, ontwikkeling, en aard van sodanige uitgawe in 'n ruimte mate verken. Wat eersgenoemde betref, is onder andere vasgestel dat die moderne histories-kritiese uitgawe gedurende die negentiende eeu sy beslag gekry het met die samestelling van GE Lessing se Sämtliche Schriften (1838 - 1840) deur Karl Lachmann. Die doelwit van hierdie uitgawe, soos dit deur Lachmann geïnisieer is, was in die eerste instansie om 'n outentieke teks, wat soos Plachta (1995:505) dit stel, daarop gemik was "to record, organize, and 'restore' all the author's texts". In die tweede plek was dit bedoel om die ontwikkeling van die werk of werke van 'n outeur te dokumenteer. Oor die jare heen sou hierdie tipe uitgawe egter verskeie ontwikkelings ondergaan wat daartoe gelei het dat veral die rol van die variantapparaat in prominensie toegeneem het. In hierdie verband is ook verskeie variantmodelle ontwikkel wat hoofsaaklik daarop gemik was om die groei van 'n werk op 'n eenvoudige, oorsigtelike, volledige en leservriendelike wyse te dokumenteer. Wat die aard van die histories-kritiese betref, is die definisie van Kanzog (1970) as vertrekpunt gebruik, naamlik dat sodanige uitgawe alle versies van 'n werk of werke in hul historiese ontwikkelingsvolgorde behoort te reflekteer. Dit is dan ook hierdie genoemde definisie van Kanzog (1970) wat as uitgangspunt gedien eht by die voorstel rakende die samestelling van 'n histories-kritiese uitgawe van Die eerste lewe van Colet van Leroux. Op grond. van die standpunte van hoofsaaklik Duitse en Nederlandse teoretici is werkswyses voorgestel vir die samestelling van onder andere die kritiese leesteks, die. variantapparaat en die kommentaargedeelte van 'n histories-kritiese uitgawe. In die geval van eersgenoemde, naamlik die samestelling van 'n kritiese leesteks, is onder andere ingegaan op die seleksie van die basisteks en die voorbereiding daarvan. Die belangrikste uitgangspunt waaroor daar binne die paradigma van die edisiewetenskap eenstemmigheid is, is dat, wat die seleksie van die basisteks betref, daar van outorisering sprake moet wees. Juis as gevolg hiervan is die standpunt dat enige geoutoriseerde versie van 'n bepaalde werk of werke as basisteks gebruik kan word. Na die versigtige, kritiese oorweging van die verskillende oorgelewerde, geoutoriseerde versies, en met die inagneming van bepaalde voor- en nadele verbonde aan elke versie, berus die finale besluit by die redakteur of samesteller om 'n uiteindelike keuse te maak. Hierdie gekose versie word met ander versies vergelyk ("kollasie") om vas te stel of daar enige foute daarin voorkom wat nie die intensies van die outeur verwoord nie. Soos Mathijsen (1997:58) dit stel, word die gekose basisteks gesuiwer van al daardie elemente "buiten de bedoeling van die auteur om". Hierdie verbeteringe moet vervolgens in die histories-kritiese uitgawe verantwoord word. Foute wat doelbewus deur die outeur of as gevolg van sy onkunde in die teks aangebring is, word in die histories-kritiese uitgawe nie verbeter nie. In die geval van Leroux met sy idiosinkratiese skryfstyl en openlike verklaring dat hy ter wille van effek doelbewus foute begaan, sou dit wenslik wees om nie gemoeds sy tekste te verbeter nie, aangesien dit teenstrydig met die ideaal van 'n histories-kritiese uitgawe is. Slegs daardie foute wat sonder die medewete van die outeur aan iemand anders toegeskryf kan word (byvoorbeeld 'n setter of kopietikster), word as sodanig verbeter. Ook kan tipografiese veranderings wat nie afbreek doen aan die betekenis van die teks nie, soos onder andere aanhalingstekens, gemoderniseer word sonder dat dit enigsins verantwoord hoef te word. 'n Voorstel rakende die samestelling van die variantapparaat van 'n histories-kritiese uitgawe is. Slegs daardie foute wat sonder die medewete van die outeur aan iemand anders toegeskryf kan word (byvoorbeeld 'n setter of kopietikster), word as sodanig verbeter. Ook kan tipografiese veranderings wat nie afbreek doen aan die betekenis van die teks nie, soos onder andere aanhalingstekens, gemoderniseer word sonder dat enigsins verantwoord hoef te word. 'n Voorstel rakende die samestelling van die variantapparaat van 'n histories-kritiese uitgawe van Die eerste lewe van Colet is dat die sinoptiese model vanweë sy oorsigtelikheid, volledigheid, leesbaarheid en relatiewe eenvoud as uitgangspunt gebruik behoort te word. Binne die raamwerk van die edisiewetenskap is sodanige werkwyse heeltemal aanvaarbaar veral waar dit gaan om deeluitgawes. Ter illustrasie van hoe die ontstaansgeskiedenis van Die eerste lewe van Colet aangebied behoort te word, was die procédé om eerstens 'n kort oorsigtelike verloop van die betrokke roman te verskaf; daarna is verbandhoudende fragmente uit rondom die ontstaan van Die eerste lewe van Colet uit sekondêre dokumente soos dagboekinskrywings en briewe opgeneem. Met betrekking tot die resepsiegeskiedenis van 'n werk is die standpunt van Mathijsen (1997:60) dat dit nie volledig hoef te wees nie; daarom is daar gepoog om na aanleiding van betekenisvolle resensies en besprekings in koerante, tydskrifte en boeke 'n oorsigtelike resepsiegeskiedenis van die verskillende uitgawes van Die eerste lewe van Colet te verskaf. Die oorlewering van 'n werk het te doen met die perpetuering daarvan in verskillende versies. Wanneer die oorleweringsgeskiedenis van 'n werk derhalwe opgeteken word, is dit belangrik om die primêre bronne noukeurig in chronologiese volgorde te beskryf en die outoriteit van elke oorgelewerde bron vas te stel. Teen hierdie agtergrond is daar dus gepoog om elke versie van Die eerste lewe van Colet noukeurig te beskryf en om die outoriteit daarvan vas te stel. Wat die plasing van die kommentaardeel in 'n histories-kritiese uitgawe van Die eerste lewe van Colet betref, is die voorstel dat dit voor of na die teksdeel geskied of selfs in 'n aparte band uitgebring kan word. In die lig daarvan dat daar in Suid-Afrika nie 'n sentrale liggaam bestaan, soos wat dit in Nederland en Amerika die geval is, waar onderskeidelik die Constantijn Huygens Instituut voor teksedities en intellectuele geschiedenis (CHI) en die Center for Scholarly Editions (CSE) hulle besig hou met die daarstelling van betroubare wetenskaplike teksuitgawes nie, is die voorstel dat die samestelling van 'n histories-kritiese uitgawe van Die eerste lewe van Colet deur 'n individu of groep individue onderneem word wat 'n deeglike kennis het van die betrokke werk, sowel as die hele oeuvre van Etienne Leroux. So 'n projek sou ook nie sonder subsidie tot stand gebring kan word nie.
- keywords
- Die eerste lewe van Colet, 1955
- Leroux, Etienne
- inLanguage
- Afrikaans
- identifier
- http://hdl.handle.net/11660/8261
- numberOfPages
- 352
- fileFormat
Position: 32 (1 views)
