Die karikatuur in die romankuns van Etienne Leroux
- Title
- Die karikatuur in die romankuns van Etienne Leroux
- author
- Jacobs, Jeanne Frances
- datePublished
- 1992
- degree
- Doctor Litterarum
- publisher
- Universiteit van Pretoria
- department
- Afrikaans
- contributor
- Nolte, K. E.
- description
- Hoewel die begrip "karikatuur" dikwels genoem word wanneer kritici die aanwesigheid van die satire, parodie en ironie in Etienne Leroux se romans bespreek, word dit nêrens omskryf of ontleed nie. Trouens, daar het tot op datum geen uitvoerige studie oor die karikatuur in die Afrikaanse letterkunde verskyn nie. Hierdie proefskrif is daarop afgestem om teoretiese helderheid te verkry oor wat ‘n karikatuur is, hoe dit as kunsgreep ontwikkel het, en hoe dit in die Leroux-kritiek neerslag gevind het. Die vertekening van bestaande modelle het reeds by primitiewe mense voorgekom en die ontwikkeling daarvan kan ook in die Antieke, die Middeleeue, die Renaissance en tot op hede nagespeur word. Hierdie vertekening het geskied deur ‘n verskeidenheid van tegnieke waarvan oordrywing, onderstelling, verwringing en vermenging die belangrikste is. Die "lag" in die een of ander vorm is altyd aanwesig in die karikatuur, hoewel dit soms afgeskaal kan wees tot ‘n blote grimmige gryns omdat die karikatuur ook tragiese, groteske en selfs grusame dimensies kan besit. Die beskouings van Mikhaïl Bakhtin, die Russiese literêre teoretikus, dien as vertrekpunt vir hierdie studie. Die begrip "karnaval" is die grondslag van die kollektiewe volkskultuur wat Bakhtin se teorie onderlê en die word ook behandel. Dit wys op die inherente behoefte by die mens om die bestaande orde om te keer en ook die vermoë om ‘n humoristiese alternatief van die konvensionele te skep. Studies oor die implementering van die karikatuur in die werk van vier erkende satiriese skrywers, belig die funksies, kwaliteit en aard van karikatuurskepping in die literatuur. Leroux se gebruik van karikature toon 'n noue ooreenkoms met die van bogenoemde skrywers. Dit behels dat die karikatuur dikwels 'n bestanddeel van satire is; dat daar naspeurbare verbande tussen die visuele en die literêre karikatuur bestaan; dat die tegnieke van vertekening en oordrywing essensieel aan die karikatuur is; dat dit bestaande aanvaarde grense en norme oorboord gooi en deurbreek; en dat korrekte begrip van 'n karikatuur by die leser tot 'n herinterpretasie van die werklikheid lei. Ontledings van die karikatuur in twee Leroux-romans, naamlik Die mugu en Sewe dae by die Silbersteins, het getoon dat die doel daarmee is om die hedendaagse samelewing as vals en kunsmatig aan die kaak te stel, maar ook om die Mens se swakhede en vergrype bloot te lê. Die mugu word as 'n karikatuur van die tradisionele ridderroman, soos dit veral rondom die hoofkarakter Gysbrecht Edelhart uitkristalliseer, in oënskou geneem. Dit ontbreek Gysbrecht aan die kenmerkende heroïese daadkragtigheid van die geïdealiseerde ridder. As 'n karikatuur van die ridder word Gysbrecht 'n anti-held, 'n verworde ridder in 'n verworde wêreld. In Sewe dae by die Silbersteins sluit Leroux aan by die middeleeuse karikatuurgenre, Die Dans van die Dood. Die idee van 'n reidans met die Dood as sentrale figuur om die lewendes oor die drumpel van die lewe na die dood te lei, word ook in genoemde roman aangetref met lady Mandrake as die doodsfiguur. Die oorblywende Leroux-romans sou in verdere studies op soortgelyke wyse ondersoek kon word.
- keywords
- Karikatuur
- Leroux, Etienne
- Die mugu, 1959
- Sewe dae by die Silbersteins, 1962
- inLanguage
- Afrikaans
- identifier
- http://hdl.handle.net/2263/29884
- numberOfPages
- 311
- fileFormat
Part of Die karikatuur in die romankuns van Etienne Leroux
Not viewed
