Tyd as struktuurelement in Na'va van Etienne Leroux
- Title
- Tyd as struktuurelement in Na'va van Etienne Leroux
- author
- Stroebel, Marietta
- datePublished
- 1978
- degree
- Magister Artium
- publisher
- Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys
- department
- Fakulteit Lettere en Wysbegeerte
- contributor
- Steenberg, D. H.
- description
- Tydsbelewing in beide roman en werklikheid is subjektief. Tyd kan gesien word as 'n ordeningsprinsipe: dit is die middel waarmee 'n karakter sy werklikheid hanteer. Tyd verbind ook die karakter met sy mede-karakter(s) en ruimte. As vertelling is die roman ook gebonde aan die realisering van die woorde van die verteller in die verteltyd. In die roman word daar met afgeloopte, voltooide gebeure gewerk. Dit is funksioneel omdat die herbelewing van afgeloopte, voltooide gebeure lei tot 'n ontdekking van nuwe verbande tussen die karakter en sy werklikheid en nuwe bestaansmoontlikhede vir die karakter open. In die herbelewing van voltooide, afgeloopte gebeure speel die geheue 'n belangrike rol: dit is die middel waarmee die karakter die verlede in die hede kan aktualiseer. Dit moet beklemtoon word dat die verlede as hede beleef word. Die belewing van verlede as hede word in die roman moontlik gemaak deur die gebruik van die historiese praesens. In Na'va word die begrafnisfees ter ere van Georgie deur die knolskrywer herbeleef in 'n poging om vast te stel waarom Georgie selfmoord gepleeg het. Die knolskrywer gebruik die historiese praesens vir die herbelewing van die begrafnisfees. In Na'va word die gebeure vanuit 'n agterna-perspektief aangebied. Die knolskrywer ervaar elkeen van hierdie afgelope momente so "lewendig" dat dit hier en nou besig is om te gebeur: die karakters is akteurs op die verhoog in sy huisie-by-die-see (wat hy as sy teater beskou) en hulle is hier en nou besig om op te tree. Daarom verkies ek dit om in Na'va van 'n praesentiese perspektief te praat. Die knolskrywer beleef die afgelope begrafnisfees in 'n a-chronologiese volgorde van subjektiewe belangrikheid. Die karakters in Na'va is verteenwoordigers van die argetipes van die Kollektiewe Onbewuste en as sodanig tydloos. Leroux gebruik verskillende motiewe soos die koningmotief, die boermotief en die jagtersmotief wat die siklusgedagte beklemtoon. Uit die karakter se tydsbelewing kan 'n mens sy perspektief aflei. Uit die klem wat die knolskrywer op die oomblik van belewing en die siklusgedagte plaas. lei 'n mens af dat hy 'n eksistensialistiese georiënteerde perspektief het. In Na'va het 'n mens met 'n psigiese ruimte te doen met die implikasie dat daar geen objektiewe tydaanduidings is nie. Die individuasieproses wat die knolskrywer deurmaak is universeel en tydloos en nie aan 'n fisiese ruimte gebonde nie. Hy beskou sy huisie-by-die-see as sy teater en dit vestig die aandag op die hier en die nou. In aansluiting hierby word daar baie gebruik gemaak van dialoog en die vraag-en-antwoordmetode waarmee die illusie van werklike teenwoordigheid en betrokkenheid by die gebeure in die leser geskep word. Leroux gebruik mites en simbole en die historiese praesens om 'n tydloosheid aan die gebeure te verleen. Daarmee word die universele aard van die gebeure ook gesuggereer. Die leser word in Na'va aktiewe, kreatiewe medestruktureerder van die roman omdat daar nie objektiewe tydaanduidings is nie en omdat die leser self die plasing van gebeure binne 'n bepaalde mities-psigologiese konteks moet realiseer.
- keywords
- Na'va 1972
- Leroux, Etienne
- inLanguage
- Afrikaans
- identifier
- http://hdl.handle.net/10394/39079
- numberOfPages
- 123
- fileFormat
